Dit is die wil van God dat julle heilig moet lewe. (vers 3)
Daar was ’n tyd in die kerk toe mense regtig erns gemaak het met hierdie voorskrif. Heilig beteken opsy gesit en volledig in God se diens. Dis nie net vir die super-Christene bedoel nie; dis ’n leefwyse wat vir elkeen van ons geld. Dié eis kom al van die Ou Testament af (Lev 11:44-45): “Wees heilig, want Ek is heilig,” het God voorgeskryf.
Dis vir my sleg om te beleef dat baie Christene vandag nie meer so ernstig oor dié saak is nie. ’n Mens sien dit in die verbrokkeling van die huwelik, huweliksontrou, en dat mense wat bely dat hulle die Here liefhet, saamleef sonder dat hulle getroud is (vers 7). Daar is gelowiges wat niks daarvan dink om hul mede-gelowige in te loop nie (vers 6). Kerkbesoek is nie meer belangrik nie.
Paulus draai nie doekies om nie. ’n Onheilige lewe kom daarop neer dat jy God verwerp (vers 8). Daarom sê hy twee keer in hierdie hoofstuk vir die Tessalonisense dat hulle hulle nog meer daarop moet toelê om reg te leef (vers 1 en 10); dit moet hulle eer wees.
Absolute toewyding en nougesette volharding – dís wat God van jou verwag.
Views: 16