Hy genees die gebrokenes van hart en verbind hulle wonde. (vers 3)
Ps 147 bevat 3 stansas, wat elkeen ingelei word met ’n oproep om die Here te loof (verse 1-6, 7-11 en 12-20). Elkeen van dié stansas gee redes hoekom ons die Here moet prys: As Alwyse maak Hy heel wat stukkend is en tel Hy die gebrokenes weer op (vers 2-6); as Skepper en Onderhouer sorg Hy vir die natuur (vers 8-11); en as Almagtige beveilig en versorg Hy sy mense en beheer Hy die natuur (vers 13-18).
Oor al dié dinge jubel die digter, maar sy eintlike verwondering lê daarin dat die Here sy wil aan sy mense bekend gemaak het (vers 19). Dit is iets wat geen ander nasie kan sê nie.
Ons het natuurlik nog meer rede om die Here te prys as wat die digter gehad het: As hemelse Vader het Hy sy enigste Seun gegee sodat ons sy kinders kan wees (Joh 3:16). As Verlosser het Jesus ons gebrokenheid op Hom geneem sodat ons genees kan wees (Jes 53:6) op ’n nuwe pad agter Hom kan aangaan.
Watter dade van God resoneer vandag by jou? Want dan kan jy saam met die psalm sê: Prys die Here!
Views: 15