“… vandag het die Here vir die koning wraak geneem oor Saul en sy nasate.” (vers 8b)
Rekab en Baäna was harde manne, bendeleiers wat van moord en roof geleef het. Hulle het vir Is-Boset strooptogte uitgevoer; vandaar die koring wat hulle by hom afgelewer het. Is-Boset was beslis nie hulle eerste slagoffer nie. Sy dood was vir hulle nie juis iets om oor wakker te lê nie.
Soos die Amalekiet in hoofstuk 1 misgis hulle hulle egter deeglik met Dawid. Al was die huis van Saul nie vir hom goed nie, het hy deernis met Saul se mense gehad en keur hy nie Is-Boset se moord goed nie. Trouens, hy sê Is-Boset was ’n onskuldige man (vers 11).
Die ergste is dat hulle voorgee dat Is-Boset se dood eintlik God se wil is (vers 8). Deur die geskiedenis het mense telkens afskuwelike dade gedoen onder die dekmantel van godsdiens. Vandag nog verontskuldig mense hulleself met die verduideliking dat wat hulle gedoen het, die Here se wil was. Dit is godslasterlik.
Soos Dawid in vers 11 bely, die Here is ons bevryder. Hy is die alleroorvloedigste fontein van alles wat goed is, bely ons in die NGB artikel 1. Soos Jak 1:13-14 sê. Hy sit nie agter ons verkeerde dade nie.