Ek het ‘n kollega gehad wat gesê het hy bid dat die liewe Heer hom net een gemeente sal gee waar die orrelis, die koster én die saakgelastigde almal tere kinders van die Here is.
Ek soek weer ’n gemeente waar al die lidmate liewe kinders van die Here is …
Ananias fluit vrolik toe hy by die huis inkom, sodat sy verras opkyk. “En as jy nou so vrolik fluit, ou man?” vra sy nuuskierig.
“Nee kyk, ek het darem ’n lekker vet slag geslaan met daardie lappie grond wat ons verlede jaar aangeskaf het.” Hy glimlag so breed dat jy net tande sien. “Ek het gewéét dis ’n goeie kopie toe ek dit verlede jaar aangeskaf het. Het ek dit nie toe al vir jou gesê nie?” Hy stoot sy bors uit. “Ek het die helfte meer gekry as wat ek daarvoor betaal het.”
Saffira spring op en slaan haar arms om haar man. “Jy is darem maar knap met geld, weet jy dit?”
“Ja, ek weet, en nou sal die hele gemeente ook weet. Ek sien al hulle gesigte as ek die geld vir Petrus gee – dis amper dubbeld soveel as wat ou Barnabas vir sy grond gekry het, en daaroor het die klomp amper ’n toeval gekry, so opgewonde was hulle.”
Saffira se gesig val, en sy sak in haar stoel terug. “Maar … gaan jy álles vir die gemeente gee? Ek het dan gedink ek kan vir my ’n nuwe weefstoel koop met ’n deel van die wins.”
Ananias aarsel ’n oomblik, en dan knik hy gemoedelik. “Nou goed, gaan koop vir jou die weefstoel. Daar sal meer as genoeg oor wees om vir die gemeente ook te gee. Om die waarheid te sê, dit sal nog steeds heelwat meer wees as wat Barnabas gegee het.”
“Maar wat gaan jy vir Petrus sê?”
Ananias trek sy skouers op. “Seker maar dat dit ’n bydrae is wat ons tot die gemeente se fonds wil maak.”
Saffira skud haar kop. “Nee, dit klink nie so goed nie. Die ding wat die mense beïndruk het met Barnabas se bydrae was dat hy gesê het dis die geld van die grond wat hy verkoop het. Dit klink darem baie beter as om net te sê hier is ’n bydrae wat ons wil maak.”
Dit lyk vir my ek sal lank soek na ’n gemeente sonder sonde. Selfs die heel eerste gemeente, waaroor Lukas nogal taamlik gloeiend is, was nie volmaak nie. Want die lidmate was tóé ook maar net gewone sondaar-mense soos ek en jy.
Saffira en Ananias was sulke sondaars. Hulle wou baie graag ’n goeie indruk by die ander lidmate van die gemeente skep. Daarmee kan ons seker nie fout vind nie. Maar as ons kyk na hoe hulle dit probeer doen het, duik daar ernstige vrae op. Petrus wil daar niks van weet nie, en uiteindelik word die twee by die kerk uitgedra, voete eerste.
’n Mens kan seker sê dis ’n bietjie kwaai, dié doodstraf vir ’n eenvoudige leuen. Maar as ons onthou dat dit die eerste gemeente was, ’n gemeente aan die begin van ’n heel nuwe bedeling, ’n gemeente wat ánders moes leef as die wêreld om hulle, maak dit meer sin. Christus wou van die begin af die grondtoon van sy kerk reg hê. Almal moes weet dat om aan die kerk te behoort, hoë eise stel. Almal kwalifiseer nie. Net dié wat die Here, en Hom alleen, in opregtheid liefhet, kan deel wees van die kerk. Vir grootdoenerigheid en spogtery en pronk en mekaar die loef afsteek is daar nie plek in die kerk nie. Die enigste een wat groot mag wees in die kerk, is die Here Jesus. Soos Johannes die Doper by geleentheid (in Joh. 3:30) gesê het: “Hy moet meer word en ek minder.”
O, dat dit waar mag wees, ook van my!
Views: 16