Openbaring 14:13
Toe het ek ’n stem uit die hemel hoor sê: “Skryf op! Geseënd is dié wat van nou af in die Here sterwe.” “Ja,” sê die Gees, “hulle sal rus van hulle arbeid, want alles wat hulle gedoen het, volg hulle.”

Hierdie uitspraak van die Gees het my lewe nuwe sin gegee. Hierdie teks sê dat dit wat ek nou doen, dit wat ek nou is, saak maak, want dit gaan saam met my na die ewigheid, en gaan deel word van God se nuwe hemel en nuwe aarde! Dit wat ek elke dag as nuutgemaakte mens in die Koninkryk van God doen, dit sal God in stand hou.

As jy mooi daaroor dink, kan dit jou natuurlik benoud maak, omdat jy weet nie alles wat jy doen, kan jou hemel toe volg nie. Soms is ek bang ek staan eendag met leë hande daar in die nuwe wêreld van God, omdat my bousels nie die toets van God se oordeel kon weerstaan nie.

Maar as jy vir die Here leef, kan jy moed skep. Want die Gees sê dit wat jy in hierdie lewe in Gods Naam verrig, sal bly staan! Dit word deel van wie jy is en wie jy gaan wees in die ewigheid. Dit volg jou na die nuwe hemel en nuwe aarde wat God skep. Dit is nié maar om ’t ewe of jy met die dinge van die Here besig is of nie. In God se nuwe wêreld sal daar ook plek wees vir dit wat jy hier op aarde vir Hom gedoen het.

Wanneer God eendag alles nuut gaan maak, sal Hy nie ’n groot streep deur alles hier op aarde kom trek nie. Nee, Hy kom maak dit nuut en heel. Hy kom maak ons én dít wat ons in ons swakheid onvolmaak gedoen het, nuut en reg sodat dit tot sy eer kan wees.

Daarom kan ek vorentoe kyk en droom van die nuwe hemel en die nuwe aarde waar alles nuut sal wees. En daarom kan ek vandag voluit leef, want dit word deel van my en gaan saam met my hemel toe.

image_pdfimage_print

Views: 79

Teken in op my artikels

Teken in op my artikels

As jy inteken, kry jy al die artikels in jou epos posbus!

Sukses! Dankie dat jy ingeteken het.