Die koninkryk van God is nie ’n saak van eet en drink nie, maar van gehoorsaamheid aan God, vrede en vreugde, wat die Heilige Gees ons gee. (vers 17)
Hoewel Paulus dit hier oor ’n gans ander saak het as dít wat deesdae in kerklike gesprekke aan die orde is, is sy insigte vir ons juis in dié tyd baie nodig. In Rome (en elders in die vroeë kerk) waar gelowiges uit verskillende agtergronde in een gemeente saamgevoeg is, was daar baie uitdagings. Een daarvan was die vraag of jy vleis wat in ’n slaghuis gekoop is, mag eet. Destyds is slaggoed eers aan ’n bepaalde godheid gewy voordat dit verkoop is, en dit was vir party gelowiges (die “swakkes”) ’n yslike probleem, want hulle het geglo die vleis is daarom besmet. Hulle het die sg. “sterkes” veroordeel omdat hulle wel die vleis geëet het (vers 2-3). Die “sterkes” het weer op die “swakkes” neergesien.
Paulus se betoog is dat dít nie is waaroor geloof gaan nie, en as jy oor kos en sulke dinge stry, mis jy die punt (vers 17). Al wat jy regkry, is verdeeldheid.
Ek glo ons moet sy woorde goed hoor. As ons op Christus fokus, sal ons dalk ’n kerkskeuring kan vermy.