Maar daar kom dae, sê die Here my God, dat Ek ’n honger oor die aarde laat kom: ’n honger nie na kos nie, ’n dors nie na water nie, maar om die woorde van die Here te hoor. (vers 11)
In Deut 8:3 staan dat ’n mens nie net van brood leef nie. Dis die Skrifgedeelte wat Jesus aanhaal in sy gesprek met Satan (Matt 4:4). Dis hoe die geestelike verval in Israel beskryf is toe Eli hoëpriester was en Samuel as seun in die tempel begin werk het (1 Sam 3:1): “Die woord van die Here is in daardie tyd min gehoor, daar was nie dikwels openbarings nie.”
Stel jou ’n lewe voor waarin God se Woord nie meer gehoor word nie, en mense tevergeefs rondval op soek daarna (vers 12). En dit terwyl die Here se woord die lig op ons pad is en die lamp vir ons voet. Duisternis sal neerdaal. God onttrek Hom aan die mens; Hy swyg, hoewel mense onophoudelik na Hom roep.
Wie die Woord nie wil hoor en gehoorsaam nie, word dit ontneem. Wat ’n vreeslike oordeel!
Dis nie in ons tyd die geval nie, maar ’n mens kán jou doof hou vir God. Sonder geestelike brood wag geestelike dood onvermydelik.
Views: 22