Galasiërs 2:11-14
Ons weet almal van Petrus wat die Here drie maal verloën het. Ek het hom altyd verskoon omdat ek gereken het dit was vóór die uitstorting van die Heilige Gees op Pinksterdag. Ná Pinkster was Petrus ’n ander mens. Hy het onverskrokke voor die Joodse Raad sy verbintenis met Jesus bely. Maar tog, sestien jaar later in Antiogië, vang hy weer ’n ding aan wat my laat wonder …
Toe Paulus by die deur inkom, spring Judas op. “Broer Paulus! Welkom. Kom sluit by ons aan, ons het sopas begin.”
“Nee dankie, broer Judas,” sê hy sag en kyk reguit na Petrus. “Ek is nie ’n huigelaar nie.”
Petrus sit die broodrolletjie neer en kom stadig orent. “Wat bedoel jy daarmee, broer Paulus?”
“Jy weet baie goed. Kyk ’n bietjie om jou. Wie sien jy hier? Nie ’n enkele nie-Jood nie. Is dit toevallig?”
“Ek het nie so opgelet …”
Toe kan Paulus dit nie hou nie. “Hou nou maar op met jou speletjies, Petrus! Vandat Jakobus se mense hier aangekom het, eet jy ewe skielik nie meer saam met nie-Jode nie. Hoekom nie? Omdat hulle nie besny is nie, dís hoekom nie. Omdat hulle nie streng volgens ons Joodse wette leef en eet nie. Stry?”
Toe Petrus nie antwoord nie, sê Paulus: “Jy is ’n Jood, en jou hou jou nie meer aan die Joodse gebruike nie. As jy self leef asof jy nie ’n Jood is nie, hoe kan jy dan mense wat nooit Jode was nie, wil dwing om te lewe asof hulle Jode is?”
Petrus wou niemand seermaak nie, en daarom trek hy hom terug; eet hy nie meer soos vroeër met nie-Jode nie, want die Jode sal aanstoot neem. In die proses gee hy egter aanstoot aan die nie-Jode. Paulus sê sommer reguit hy huigel.Jy sien, partykeer móét ons standpunt inneem en daarby staan, anders laat ons mense in die steek, en, erger nog, die Here self.