Was daar regtig reuse?
Toe die Here sien hoe groot die verdorwenheid van die mens op aarde is en dat hy sy lewe lank net slegte dinge bedink, was die Here bedroef daaroor dat Hy die mens op die aarde gemaak het. (Gen 6:5)
Aan die begin van Genesis 6 lees ons ’n baie vreemde verhaal, van hemelwesens wat met aardse vroue getrou het, en by hulle kinders verwek het wat tot die geboorte van reuse gelei het, die helde uit die ou tyd, beroemde mense (Gen 6:4). Dis ’n vreemde vertelling wat ons eerder in die antieke Griekse mitologie sou gaan soek (dink bv aan Achilles). Wat maak dié mite in die Bybel?
Deur die eeue is baie verklarings voorgestel. In die apokriewe Boek van Henog word dit verduidelik dat die hemelse wesens gevalle engele was. ’n Ander verklaring is dat die “seuns van God”, soos dit letterlik in die Hebreeuse teks staan, die nageslag van Set was, terwyl die “dogters van mense” die nageslag van Kain was. Dié huwelike is ’n simbool van die morele verval en vermenging van heiligheid met goddeloosheid, volgens hierdie siening.
Ek verkies ’n derde verklaring: Hierdie vertelling wil vir ons laat verstaan waarom die sondvloed Gen 6 – 8) moes plaasvind. Vers 5 sê God was jammer dat Hy die mens gemaak het, omdat die mens só verdorwe geword het.
Dié bisarre verhaal is dus nie deel van die oergeskiedenis waaraan ons as gelowiges waarde moet heg nie; dis ’n voorbeeld van hoe arrogant die mense in Noag se tyd was, en die slegte dinge wat hulle bedink het (Gen 6:5a). Hulle het halfgode uitgedink en selfs geglo dit is moontlik om die straf van God op die sonde te omseil deur met dié versinde gode te trou en so onsterflikheid te verkry.
Die Bybel vertel hierdie storie, nie omdat dit waar is nie, maar as voorbeeld van die slegte bedinksels, versinsels, van die mens. Dáárom het God ingegryp met die sondvloed, waarvan ons verder in die hoofstuk lees. Om die boosheid van die mense te beëindig.
Views: 22







Goeiemore Jaco, ek tree af einde van die maand.
Verander asseblief my epos na “oli4huis@mweb.co.za”.
Vriendelike groete
Hallo Danie
Dis ‘n groot mylpaal. Ek kan dit aanbeveel!
Ek verander jou epos 🙂