Dag 1: Almal is genooi
Lees: Matt 11:28-29
Iets waarmee die meeste van ons sukkel, is dat ons grense trek wanneer dit by mense kom. Ons sluit graag mense van wie ons hou of mense wat soos ons is, in, en net so maklik sluit ons mense wat anders as ons is, uit. As daar byvoorbeeld ’n beroep is op hulp en dis vir “ons mense”, voel jy dadelik anders as wat dit vir ’n ander kultuurgroep of ander ras gaan. Ons en hulle. Dis hoe ons dink.
Gelukkig dink God nie soos ons nie. Hy sluit niemand uit nie, selfs nie eers dié wat Hom die rug toegekeer het nie. As dit nie so was nie, sou die Seun nooit mens geword het nie. Johannes 1:11 sê dat selfs sy eie mense Hom verwerp het, en tog word hulle óók ingesluit in sy uitnodiging: “Kom na My toe, almal …”
Jesus se uitnodiging bevat al klaar ’n les wat ek en jy by Hom kan leer: dat ons ons visier wyer moet stel; dat ons soos Jesus almal in die oog moet hê, vir almal as ’n medemens moet sien, of hy of sy nou oud is of jonk, ryk of arm, gelowig of ongelowig, wit of swart. En jy? Is daar mense wat jy op die oomblik uitsluit as jy dink aan mense vir wie jy kan of moet omgee?
Dalk, net voordat jy dit miskyk: jy is óók by Jesus se uitnodiging ingesluit!
Gebed: Leer my, Here, om soos U na ander te kyk.
Views: 5




