Jy is ’n priester! Sowaar. Dit is wat Petrus jou noem: ’n koninklike priester.
In ons moderne samelewing maak die woord “priester” nie meer veel sin nie, want ons lewe in ’n samelewing en in ’n kerk waar daar van offerdiens geen sprake is nie. Jesus was Self die laaste offer wat vir die sonde gebring is, en ons rus in sý groot offer. Dis die boodskap van die Brief aan die Hebreërs, en dit is waaraan ons mekaar telkens weer herinner by die nagmaalstafel.
En tog staan dit hier: ons is ’n koninklike priesterdom, ’n groep priesters, nogal Jesus se priesters, want Hy is mos ons koning.
Ons sal beter verstaan wat Petrus bedoel as ons ’n oomblik aan die werk van ’n priester in die Joodse godsdiens van destyds dink. Hy moes offers aan God bring namens die volk. Hy moes dus die gewone mense deur die offers help om by God uit te kom.
1 Petrus 2:9 sê dié taak het nou joune en myne geword. Óns is nou die priesters wat namens mense voor God moet staan, wat vir mense by God moet intree, mense se saak vir hulle en namens hulle na God toe neem.
Dit is ’n mondvol. Op die minste beteken dit dat dit jou en my taak is om vir ander te bid en te pleit, veral vir dié wat self nie meer kan nie, omdat hulle te swak is, of te platgeslaan.
Jy moet langs mense voor God staan. Voorbidding is jou heilige roeping! Hoe vaar jy daarmee?
Gebed: Here, wat ’n ongelooflike voorreg om namens ander voor U te mag staan. Maak my hierin getrou.
Views: 8




