- Die basis van die lewe
Op u verlossing wag ek, Here!
Genesis 49:18 (AFR20)
Hoekom Jakob hier, waar hy besig is om sy seuns te seën met die oog op die toekoms, hierdie versugting invoeg, sal ons nooit weet nie. Maar een ding is seker: hy verwag verlossing vir hom en sy kinders van God alleen. Want Jakob het besef dat daar geen saligheid buite God is nie. Om op God vir verlossing te wag, of dit nou vir jou persoonlik of vir die mensdom is, is ons voortdurende plig. Daarin lê ons ware geluk.
Maak tyd om na te dink oor die wonderlike verlossing wat God vir jou in Christus bewerk het. Dink aan Hom, wat op hierdie oomblik besig is om sy doel in jou deur sy Gees te verwesenlik. Staan hierby stil totdat jy dit goed begryp dat alles wat meewerk aan hierdie groot verlossing, die werk van God Self is. Oordink Paulus se stelling in Kolossense 1:27-29 (AFR29): God het besluit om aan hulle bekend te maak hoe ryk die heerlikheid van hierdie misterie vir alle nasies is: Christus is in julle, die hoop op die heerlikheid. Hom verkondig ons, terwyl ons elke mens vermaan, en elke mens in alle wysheid onderrig, sodat ons elke mens voor God kan stel as volwasse in Christus. Daarvoor span ek my ook in, terwyl ek die worstelstryd voer, in ooreenstemming met sy krag, wat met mag in my werk.
God se genade, goedheid en krag is nie los items wat Hy uitdeel, soos reëndruppels uit die hemel nie. Hy kan dit net gee, en ons kan dit net ontvang, deurdat Hy dit Self in ons werk. Maar dan moet ons Hom toelaat om dit in ons te doen. Jy moet jou oorgee aan Hom, en wag op Hom, anders verhinder jy Hom.
Word stil voor Hom, en wag op Hom! Gee jouself volledig aan Hom oor in die verwagting dat Hy in jou werk. So groei jou hoop op Hom, en sal Hy jou krag en sterkte word, soos Nehemia 8:11 (AFR20) sê: Moenie neerslagtig wees nie, want die vreugde van die Here, dit is julle toevlug.
Views: 17






