1. Wag op leiding

HERE, wys my die weg wat ek moet gaan, leer my u paaie. Lei my deur u waarheid en leer my, want U, o God, is my redder. Die hele dag wag ek op U.
Psalm 25:4-5 (NLV)

’n Gevegsmag het nie net voorraad nodig om te kan veg nie; dit het ook instruksies nodig. So is dit ook in die geloof. Net so nodig as wat dit is om op God se voorsiening te wag, net so nodig is dit om op sy instruksies te wag.

In Psalm 25:3 stel die digter dit só: Niemand wat sy verwagting in U stel, sal beskaam word nie. Dié wat nie op U vertrou nie, hulle kom in die skande.

Die psalmdigter het God se wet geken en liefgehad, en dit dag en nag oordink. Tog het hy besef dat dit nie genoeg is nie. Om God se woord in sy eie persoonlike situasie reg te kan toepas, het hy direkte Goddelike onderrig nodig gehad. Wat die psalm besonders maak, is dat die digter by herhaling sy behoefte aan Goddelike leiding noem, en daarmee saam ook sy onwrikbare sekerheid dat God dit vir hom sal gee.

Bestudeer die psalm tot jy ook dié twee gedagtes in jou hart vasgelê het: die absolute behoefte en die absolute sekerheid van Goddelike leiding. Dan sal jy verstaan hoekom die digter kan sê: Die hele dag wag ek op U.

Om op God se leiding te wag, is ’n baie geseënde deel van wag op God. Hy weet dat ons niks goeds kan doen as Hy dit nie in ons werk nie. Ons kan op Hom reken om die weg te wys, nie net in moeilike omstandighede nie, maar deur die loop van elke dag. Al wat nodig is, is dat ons daarvoor op Hom wag, stil in gebed voor Hom, tot die diep, rustige versekering ons vul, want – vir dié wat beskeie is, leer Hy sy pad (Psalm 25:9).

As jy in jou gebedstye jouself oorgee aan God se leiding, berei dit jou voor om die hele dag na Hom op te sien en in die vreugde van sy lig en leiding te leef. Om dit te kan doen, is net een ding nodig: die seker wete dat God die enigste bron van wysheid en goedheid is. Dan word wag op God jou hoogste vreugde. Wag op die Here!

image_pdfimage_print

Views: 4

Teken in op my artikels

Teken in op my artikels

As jy inteken, kry jy al die artikels in jou epos posbus!

Sukses! Dankie dat jy ingeteken het.