- Wag op ’n God van oordeel
Selfs op die pad van u oordele, Here, het ons op U gewag … Want wanneer u oordele die aarde tref, leer die bewoners van die wêreld wat reg is.
Jesaja 26:8-9
Want die God Van Reg Is die Here; gelukkig is almal wat op Hom wag.
Jesaja 30:18b (AFR20)
Die Here is ’n God van genade én ’n God van oordeel. Genade en oordeel is altyd bymekaar in sy handelinge. Sy oordeel straf die sonde, terwyl sy genade die sondaar red. ’n Mens kan ook sê genade red die sondaar, nie ten spyte van nie, maar juis deur die oordeel wat op sy sonde rus. Daarom moet jy weet dat, terwyl jy wag, jy Hom as ’n God van oordeel kan verwag.
Selfs op die pad van u oordele, Here, het ons op U gewag. Jy sal dit self agterkom. As jy opreg is in jou verlange na heiligheid en in jou gebed om ten volle die Here s’n te wees, sal sy heilige teenwoordigheid jou bewus maak van verborge sonde in jou, en jou oortuig van jou sondige natuur wat teen God se wet is. God voltrek sy oordele oor sonde in die siel in groot genade. Baie mense probeer van hierdie oordele vlug, maar die siel wat na God verlang en na verlossing van sonde, buig nederig en met hoop onder Gods oordeel.
Moenie verbaas wees as jou wag op God jou meer bewus maak van jou eie sonde en duisternis nie. Buig voor die oordeel oor elke sonde, want oordeel berei die weg en ontsluit God se wonderlike genade. Wag op Hom. Sy liefdevolle genade werk in jou, juis te midde van sy oordeel.
Daar is natuurlik nog ’n kant aan God se oordeel; ’n baie ernstige kant. God gaan kom om die wêreld te oordeel. Jy weet van talle Christene wat dit net in naam is en onverskillig lewe. Dis daarom ook jou taak om hulle te waarsku! Laat ons dan praat en bid soos nog nooit, sodat God se heiligheid mense sal wakker skud.
Views: 1






