- Wag in stilte
Goed is dit om stil te wag op die verlossing van die HERE.
Klaagliedere 3:26
Julle krag lê in stil wees en vertroue hê (Jesaja 30:15). Hierdie woorde wys hoe noodsaaklik stilte is in ons wag op God. As jy jou hele hart op God wil rig, moet jy wegdraai van jouself en van alles wat jou gedagtes vul, of dit nou vreugde is of hartseer.
God is oneindig groot en heerlik. Ons het so vervreemd van Hom geraak dat ons ons hele hart en al ons begeerte op Hom moet vestig om selfs net iets van Hom te ken en te ontvang. Alles wat nie van God is nie en ons vrese opjaag, ons pogings aanjaag, ons hoop wek of ons bly maak, keer ons om volmaak op Hom te wag. Daarom, word stil voor Hom! Die blote gedagte aan God in sy majesteit en heiligheid behoort ons stil te laat word. Die Bybel is vol daarvan:
Die Here is in sy heilige tempel: almal op aarde moet in sy teenwoordigheid stil wees. (Habakkuk 2:20)
Wag in stilte op die Here God! (Sefanja 1:7)
Wees stil voor die Here, al wat leef! Hy kom uit sy heilige woning te voorskyn. (Sagaria 2:13)
As jy die wag op God bloot beskou as ’n middel tot beter gebedsverhoring, sal jy nie die gees van stilwees bereik nie. As jy egter die wag op God sien as een van die hoogste vorms van gemeenskap met die Heilige Een, sal die heilige stilte die ruimte skep dat God kan praat en Homself kan openbaar.
Maak tyd om alleen te wees, weg van vriende en verpligtinge, sorge en vreugdes, en stil te word voor God. Selfs Bybellees en gebed kan jou hinder, omdat dit jou gedagtes besig hou. Jou hele wese moet laag buig in stilte voor Hom. Aanvanklik sal dit moeilik wees, maar hou moed. Op die lang duur word dit ’n heerlike tyd van genade.
Goed is dit om stil te wag op die verlossing van die HERE. Inderdaad. Stilwees is ’n belydenis van ons hulpeloosheid en ons vertroue dat God op sy tyd tot ons hulp sal kom; die stil rus in Hom alleen. Wag op die HERE!
Views: 18



