- Wag vir onverwagse wonders
Van die vroegste tye af het niemand dit gehoor nie, daarvan verneem nie, het geen oog ’n god gesien nie, buiten U, wat optree vir dié wat op Hom wag.
Jesaja 64:4
Paulus haal Jesaja 64:4 aan in 1 Korintiërs 2:9: “Wat die oog nie gesien en die oor nie gehoor het nie,” en wat in die hart van ’n mens nie opgekom het nie, dit het God gereed gemaak vir dié wat Hom liefhet. Daarmee laat hy die klem val op die onverwagse dinge wat God doen.
Jesaja se gebed kom uit ’n benarde tyd in Israel. Hulle pleit by God: Kyk uit die hemel uit af. Is U nie meer oor ons bewoë nie? (63:15). As U maar die hemel wou oopskeur en wou afkom … soos ’n vuur wat fynhoutjies laat brand. Laat u Naam só aan u vyande bekend word … (64:1,2). Dan dink hy terug (64:3): Toe U wonders gedoen het, wonders wat ons nie verwag het nie, toe U destyds afgekom het, het die berge voor U geskud. Die God van ouds is steeds dieselfde God wat kan doen wat geen oor gesien of oor gehoor het nie.
Soos destyds is daar vandag nog ’n oorblyfsel wat God met hulle hele hart soek. Maar as ons na die kerk in die breë kyk, het ons oorvloedige rede om God te smeek om die hemel oop te skeur en af te kom, want niks behalwe ’n spesiale ingryp van Bo kan ons help nie. Kyk na die bediening – hoeveel daarvan is in menslike wysheid en wêreldse kultuur; hoe min is die demonstrasie van die Gees. Dink aan die eenheid van die kerk – hoe min van die krag van hemelse liefde wat God se kinders saambind, is sigbaar. Dink aan heiligheid, van Christus-nederigheid en gekruisig wees vir die wêreld – hoe min sien die wêreld dat daar mense onder hulle is wat in Christus leef en in wie Christus leef.
Wag dan op God! Smeek Hom onophoudelik om uit die hemel af te kom, dat die vyande van Hom kennis sal neem. Pleit by Hom dat Hy onverwagse dinge sal doen. Ja, stel jou vertroue in die wonderdoenende God. Hy kan oneindig meer doen as wat ons bid of dink (Efesiërs 3:20). Wag op die HERE!
Views: 11



