1. ’n Pleit in gebed

Mag onskuld en opregtheid oor my die wag hou, want ek wag op U.
Psalm 25:21 (AFR20)

Die woord wag kom hier vir die derde keer in die psalm voor. Soos in vers 5 pleit die bidder dat God sal onthou dat hy op Hom wag en ’n antwoord verwag. Hy bid in die wete dat God weet hy wag. Dis ’n magtige pleidooi en gee die bidder steeds meer moed om die belofte op te eis: Niemand wat op U wag word ooit beskaam nie.

Hierdie aspek is baie belangrik in jou geestelike lewe: as jy God nader, moet dit in opregtheid wees; met integriteit en openhartigheid, soos ons in die volgende psalm lees: Laat aan my reg geskied, Here, want ek was opreg in my doen en late … Maar ek sal lewe in opregtheid; red my en wees my genadig (Ps 26:1 en 11, NLV). As jy die Heilige Een nader en sy volle seën wil ontvang, mag daar niks sondigs of twyfelagtigs in jou wees nie; jy moet heelhartig en volledig aan sy wil oorgegee wees.

Want ek wag op U. Díe woorde is nie net bedoel vir hierdie psalm nie; dit moet waar wees van elke gebed. Oordink dit totdat dit deel van jou geloofslewe is. Jy moet duidelikheid kry waarvoor jy wag, want dit kan verskillende dinge wees. Dit mag op ’n bewuswording wees van sy heilige teenwoordigheid en nabyheid, of ’n antwoord op ’n spesiale versoek. Of dalk wag jy om God se kragtige werking te beleef.

Jy moet ook weet op Wie jy wag – nie op ’n god wat moet inpas in wat jy wil hê nie, maar op die lewende God in al sy heerlikheid, oneindige heiligheid, krag, wysheid en goedheid, liefde en nabyheid; op dié God wat Homself in Christus deur sy Gees bekend gemaak het. Word stil, en wag op Hom, totdat jy weet Hy is naby.

Ek wag op U. Laat dit die grondhouding van jou geloofslewe wees. Dit sal offers verg; om geheel en al oorgegee aan God te leef, word dan jou enigste vreugde. Christus het juis daarvoor gesterf: dat ons in die dampkring van God kan leef, die Bron van alle goedheid, vreugde en liefde. Wag dan op Hom!

image_pdfimage_print

Views: 12

Teken in op my artikels

Teken in op my artikels

As jy inteken, kry jy al die artikels in jou epos posbus!

Sukses! Dankie dat jy ingeteken het.