Wanneer ons hierdie gedeelte lees, lyk dit darem maar na ’n harde en ongenaakbare heer van wie hier gepraat word. En as Jesus dit nou op ons geloofslewe toepas, lyk dit asof God ’n harde en wrede God is, wat net heel dag werk uitdeel, en ons het niks te sê nie.
Gelukkig is dít nie die boodskap van Luk 17 nie. Hierdie gedeelte wil nie vir ons iets sê van hoe God is nie; dit wil vir ons iets sê van hoe ons behoort te wees. Daarom mag ons nie hier allerlei afleidings maak oor God nie – dan mis ons die hele boodskap van Jesus se vertelling.
Jesus sê hier 3 dinge:
• Ons is slawe wat niks verdien nie
• Ons is slawe wat ’n opdrag het om uit te voer
• Ons is slawe wat in ons taak ons vreugde en vervulling moet vind
Slawe wat niks verdien nie
Die Here Jesus sê: Ons is slawe van niks verdien nie. Ons kan nie deur ons harde werk, ons getroue wetsonderhouding, ons goeie dade, ons kan nie hiermee vir God by ons in die skuld plaas nie.
Tog het die Jode so gedink, en – ongelukkig – dink daar vandag nog mense so oor hulle godsdiens. Die Jode het geredeneer dat, as hulle net genoeg goeie werke doen, dan is God as ’t ware verplig om hulle in die hemel te aanvaar. En vandag nog ding party mense so. Hulle dink dat, as hulle genoeg doen, as hulle gereeld Bybel lees en kerk toe gaan en geld vir die kerk gee, dan sal God darem tog seker vir hulle in die hemel toelaat.
Dit werk nie so nie. Ons kan nie vir God in die skuld plaas deur ons voorbeeldige lewe of ons ywer vir die kerk nie. God red ons nie omdat óns so goed is nie; Hy red ons omdat Hy ons liefhet, uit genade, en nie omdat ons dit verdien nie. Ons kan niks by God verdien nie – daarvoor sondig ons te veel.
Slawe wat ’n opdrag het om uit te voer
Maar dis nie al nie. Jesus sê ons is slawe wat ’n opdrag het om uit te voer, nl. om ons hele lewe aan God te wy. Dit is ons roeping. Daarom mag ons nie dink dat ons iets besonders gedoen het as ons iets vir die Here gedoen het of ’n dag opgeoffer het om vir God te werk nie. Dit is ons plig om vir God te werk. Dit is nie iets buitengewoon nie!
Ek mag nie selfvoldaan en selftevrede myself op die skouer klop as ek teenoor iemand anders getuig het, of nee gesê het vir ’n versoeking, of ’n groot dankoffer gegee het, of op die kerkraad dien nie. Dan het ek tog nie méér as my plig gedoen nie. Hierdie slaaf in ons gelykenis het alles gedoen wat sy eienaar van hom verwag het. Hy was die hele dag besig, en tog word hy nie bedank nie – dit was sy plig. Hoeveel van ons doen alles wat God van ons verwag? Durf ons dan agteroor sit en dink: nou het ek darem seker genoeg gedoen vir eers?
Nee. Selfvoldaanheid pas nie by ’n Christen nie – eerder onvermoeide ywer vir die dinge van die Here, uit dankbaarheid vir die wonder dat Hy ons gered het. Dit is ook wat die slaaf in Jesus se gelykenis gedoen het. Hy het die ekstra taak wat sy eienaar op hom lê, aanvaar asof dit vanselfsprekend is, sonder opstand en gegriefdheid. Inteendeel, in die uitvoering van sy taak het hy ook sy eer en sy vervulling gevind.
Die koninkryk van God stel hoë eise aan die volgelinge van Christus. Hier is nie plek vir mense wat wil agteroor sit en niks doen nie. Om Christen te wees, beteken nie om tot ’n luilekkerland toe te tree nie. Nee, ons is geroep om vir God te dien met ons hele lewe. En dan nie met lang gesigte nie, maar met vreugde.
Vreugde en vervulling in ons werk
Die HK (vr 90) praat hiervan as die opstanding van die nuwe mens. Hy sê: Dit is ’n hartlike vreugde in God deur Christus, en ’n lus en liefde om volgens die wil van God in alle goeie werke te lewe.
Ek onthou as kind hoe lekker dit vir my was om vir Juffrou werkies te doen, hoe trots ek was dat sy vir my gevra het. So dikwels is dit nie hoe ons oor ons werk vir die Here voel nie. Ons mor en kla, en ons is onwillig om iets vir die Here te doen, iets van ons gemak en gerief op te offer. En wanneer ons tog nog iets doen, dan doen ons dit so sonder geesdrif, of ons voel veronreg omdat dit van ons verwag word. Geen wonder nie dat so baie mense sê: Ek sal eendag ’n Christen word. Maar nou wil ek eers die lewe geniet. Hulle sê dit omdat hulle nie in ons lewe sien dat dit ’n vreugde kan wees om God te dien nie, dat ’n mens daarin jou vervulling kan vind nie. Is dit nie ’n geweldige aanklag teen ons as gelowiges nie?
Die Here Jesus sê: Ons is onverdienstelike slawe. Ons kan nie ons verlossing by God verdien nie. Ons mag ook nooit moeg word of in selfvoldaanheid agteroor gaan sit nie. Ons is slawe wat niks verdien nie. Ons doen maar net wat ons verplig is om te doen.
Slot
Dit beteken natuurlik nie dat God hard en ongenaakbaar is nie, en nie raaksien wat ons doen nie. Ek het aan die begin gesê: hierdie gedeelte praat nie oor God se houding teenoor ons nie, maar oor die gesindheid waarmee ons ons werk moet doen in Gods koninkryk. God is nie hard en ongenaakbaar nie. Hy is geen slawedrywer nie. Hy sien wel deeglik raak wat ons doen. Daarom wil ek ten slotte ’n enkele vers lees uit Luk 12:37:
Gelukkig is die slawe vir wie die eienaar by sy koms wakker sal aantref. Dit verseker Ek julle: Hy sal hulle aan tafel laat sit, self ’n voorskoot aansit en hulle kom bedien.
God is geen slawedrywer nie. God is ons Vader in Christus Jesus. Kom, laat ons Hom met oorgawe dien – dan sal ons op die duur ook ontdek: daar is geen groter vreugde, geen groter vervulling, as om vir God te dien nie. Dit gee die lewe sin.
Amen.
Views: 77





