Lees Hebreërs 10:19-25
Hebreërs 10:25a:
Ons moenie van die samekomste van die gemeente af wegbly soos party se gewoonte is nie …
Ek besoek ’n tyd gelede ’n kennis in die hospitaal. Sonder dat ek eens daarna verwys het (ek was in elk geval nie van die situasie bewus nie) begin hy met my praat oor sy swak kerkbywoning. Hy is ’n gelowige, maar hy sê hy weet eerlikwaar nie hoekom hy nie kerk toe gaan nie; dis net nie deel van sy Sondagprogram nie.
Sy kerkbesoekloosheid is ’n slegte gewoonte. Dikwels begin slegte gewoontes met ’n rede – ’n oorvol program, slegte weer, swak preke – maar as dit lank genoeg volgehou word, verval die redes. ’n Gewoonte het immers nie ’n motivering nodig nie. Gewoonlik kry jy jou gewete ook stilgemaak, maar iewers in jou onderbewussyn sluimer die skuldgevoel, totdat jy in ’n hoek gedryf word, soos die man in die hospitaal. Dan kan jy nie vir jou gewete – of vir God – vlug nie.
Miskien is daar in jou lewe ook sulke slegte gewoontes wat oor jare ontwikkel het. Moenie wag tot jy in ’n hoek vasgekeer is voordat jy dié gewoontes afsweer nie. Want, so waarsku Hebreërs ons, die oordeelsdag kom nader …
Berou sonder verbetering is soos om voortdurend te pomp sonder om die lek te stop. (R. Dilwyn)
Views: 63





