God wou Moses doodmaak

En op pad, by die oornagplek, het die HERE hom teëgekom en hom probeer doodmaak. Toe neem Sippora 'n vuursteen, besny haar seun en raak sy voete daarmee aan en sê: 'Jy is vir my 'n bloedbruidegom.' Toe het Hy hom met rus gelaat.
Eks 4:24-26

Hierdie is ’n baie vreemde en raaiselagtige gebeurtenis, wat ek nie nou volledig kan behandel nie. Maar ek dink die hoofgedagte is dat die HERE Moses wil gebruik as leier om sy volk uit Egipte uit te lei. Maar op pad terug Egiipte toe keer die HERE hom voor omdat hy ongehoorsaam was aan die bevel om sy seuns te besny. Dit sou ondenkbaar wees dat hy self ongehoorsaam is aan een van die mees basiese bepalings van die verbond.

Ons weet nie hoekom Gersom nie besny is nie. Dalk omdat Sippora, ’n Midianiet, nie daarvoor geneë was nie? Of dalk omdat Moses die besnydenis uitgestel het? Die teks gee ons nie ’n antwoord hierop nie.

Moses se voete is waarskynlik ’n eufemistiese verwysing na sy geslagsdele. Deur die bloed van Gersom se besnydenis red Sippora nou vir Moses deurdat sy die verbondseis wat Moses nagelaat het, nagekom het.

Dié gebeurtenis staan opgeteken om ons te herinner dat God se uitverkore werktuie nie bokant die eise van die verbond staan nie. Hoe groter die roeping, hoe groter die verantwoordelikheid. Jakobus skryf later (Jak 3:1) dat leiers strenger as ander beoordeel word: “My broers, julle moenie almal leermeesters wil wees nie, want julle moet weet dat ons wat leermeesters is, strenger as ander beoordeel sal word.”

Samevattend kan ons sê:
• God neem sy verbond ernstig op.
• Gehoorsaamheid begin by die leier.
• God se genade hef nie sy heiligheid op nie.
• Die teken van die verbond is nie bloot simbolies nie; dit vra verbondstrou.
• Sippora tree onverwags op as die een wat deur haar daad Moses se lewe red.

image_pdfimage_print

Views: 75

Teken in op my artikels

Teken in op my artikels

As jy inteken, kry jy al die artikels in jou epos posbus!

Sukses! Dankie dat jy ingeteken het.