Lees 1 Pet 1:1-9, 23
Jy het dit ook al gesien – daardie artikels in glanstydskrifte: “Sewe stappe na ’n nuwe jy.” En dan kom die raad oor dit of dat waaraan jy moet werk. Net: dit werk nie. Jy kan nie jouself só nuut maak nie. En dis presies hier waar die goeie nuus van Jesus inkom: jý kan nie, maar dis ook nie nodig nie, want Gód kan, en Hy het dit boonop klaar gedoen! Dis tog wat Petrus in 1 Pet 1:23 onderstreep. Hy gaan eenvoudig uit van die feit dat jy wedergebore ís, en dat dit nie jou werk is nie, maar God se werk, deur sy lewende en ewige woord, die evangelie, wat die nuwe lewe in jou laat ontkiem het, sodat jy nou God se kind is.
Jy is wedergebore, ’n tweede keer gebore, ’n nuwe mens gemaak, wat anders is as wat jy was voordat jy wedergebore is. Net soos met jou aardse geboorte, het jy met hierdie geestelike wedergeboorte niks bygedra nie. Dit is nie jou prestasie nie, dis God se werk in jou.
In hierdie nuwe lewe is jy nie verkneg deur die sonde en ’n slaaf van die Bose nie. Jy is vrygekoop om vir God te leef. Dit het op Golgota gebeur, waar Jesus Satan en sonde oorwin het. En dieselfde evangelie die wedergebore in jou bewerk het, is ook jou rigsnoer om elke dag as nuwe mens te lewe.
Gebed: Dankie, Here, dat ek nuut is. Help my om dit te glo en te leef.
Views: 6




