Lees 1 Pet 2:9-17

Jy is God se stem in hierdie wêreld. Dít was deel van ’n priester van ouds se taak. ’n Priester se taak was nie afgehandel as hy mense met hulle behoeftes na God geneem het nie. Want as middelaar tussen God en die mens moes hy ook namens God voor gewone mense staan; God as ’t ware by die gewone mense verteenwoordig.

’n Priester se werk was om God se stem te wees. Hy moes God se genade en vergifnis aan mense verkondig, en God se oordeel oor die sonde telkens weer onderstreep. Petrus verwys hierna as hy sê ons as priesters moet die verlossingsdade verkondig van Hom wat ons uit die duisternis geroep het na sy wonderbare lig.

Interessant dat hy sê verlossingsdade. Hy kon ook gesê het oordeel oor sonde, maar dis nie waar hy die klem laat val nie. Jou primêre taak as God se stem is nie om mense te veroordeel en na die verdoemenis te stuur nie, maar om van God se verlossingsdade, God se genade, God se omgee en sorg vir sondaarmense, te vertel.

Mense sê dikwels hulle kan nie met ander oor die Here praat nie, want hulle weet nie wat om te sê nie, en hulle is bang om mense te konfronteer. Petrus se antwoord is: Praat oor wat jy van God ontvang en beleef; vertel van die verskil wat Hy in jou lewe maak. Dís jou roeping as priester.

Gebed: Here, maak my ’n stem vir U! Gee my die woorde en geleenthede om van u verlossingsdade te getuig.

image_pdfimage_print

Views: 2

Teken in op my artikels

Teken in op my artikels

As jy inteken, kry jy al die artikels in jou epos posbus!

Sukses! Dankie dat jy ingeteken het.