Wees my genadig, o God! Wees my genadig, want by U soek ek skuiling. Onder u vleuels sal ek skuil tot die bedreiging verby is. (vers 2)

Dié psalm verwoord die dualiteit van die geloofslewe goed: jy weet God sorg vir jou (vers 4), én jy wag daarop in spanning (vers 6). Die digter weet die gevaar is baie groot, en beskryf dit so duidelik dat ’n mens dit as ’t ware self beleef (vers 5), maar daar is nie enige paniek of ’n ervaring dat die einde op hande is nie. Die digter glo die boosheid van hulle wat sy ondergang soek, sal op hulle eie hoofde neerkom (vers 7). God is wel in die hemel, maar tog is Hy nie te ver om te kan help nie (vers 4).

Ons sien hier hoekom ’n gelowige kalm kan bly te midde van selfs die ergste bedreigings en aanslae wat die lewe en mense na jou kant toe kan slinger: God is daar, en in sy grootheid en mag omvou Hy sy kinders.

In baie kerke vorm hierdie psalm deel van die Paasfees-liturgie. Ons gedenk op Paasfees immers die oorwinning van Christus oor alle bedreigings, terwyl ons ook wag op die laaste dag, wanneer Christus alle bose magte sal vernietig.

image_pdfimage_print
Teken in op my artikels

Teken in op my artikels

As jy inteken, kry jy al die artikels in jou epos posbus!

Sukses! Dankie dat jy ingeteken het.