Ek het geweet U is ’n genadige en barmhartige God, lankmoedig en vol liefde. U sien maklik af van die straf wat U aangekondig het. (vers 2)
Ongelooflik. Jona ken die Here. Hy weet God is ’n genadige God. Maar hy stem glad nie met God saam nie, want God is volgens hom vir die verkeerde mense genadig. Só kwaad is hy dat hy liewer wil sterf (vers 3). Dit is die toppunt van arrogansie.
Dit lyk my ’n mens kan God ken en die Bybel ken sonder dat dit jou hart verander. Dan roep jy God se oordeel af oor ander wat nie soos jy is en leef nie. Die probleem daarmee is dat die hele punt van aan God behoort, daarin lê dat ons soos Hy moet word. “Wees barmhartig soos julle Vader barmhartig is,” het Jesus ons geleer in Lukas 6:36. Paulus sê dit ook in Efes 5:1: Ons moet God se voorbeeld volg.
Die wonder van hierdie verhaal is dat God net soveel geduld en genade vir Jona het. Hy draai nie sy rug op Jona nie, maar bly met hom besig, sodat hy kan verstaan hoe God oor mense dink. Of Jona dié insig gekry het, is ’n ope vraag.
NB: Ons begin môre met Miga.