Hulle is aangesê om nie die gras van die aarde, die plante en die bome kwaad aan te doen nie, maar net die mense wat nie die seël van God op hulle voorkoppe het nie. (vers 4)
Die eerste vier trompette (Op 8:6-13) kondig kosmiese rampe oor die skepping aan. Dis egter nog nie die finale oordeel nie. Net ’n derde van die skepping word daardeur geraak (by die seëls is ’n kwart van die aarde getref; dus is daar wel ’n intensifisering van die oordeel). Dit dien as ’n waarskuwing aan die mensdom om tot inkeer te kom.
Met die vyfde en sesde trompette word die mense self getref. Dit is egter nie almal nie, maar dié wat nié die seël van God het nie (vers 4). Die vyfde trompet is ’n waarskuwing. Die mense word gepynig maar nie gedood nie. God begeer immers nie die dood van die sondaar nie, maar sy bekering. God laat egter nie toe dat die kwaad ongehinderd voortgaan nie. Die mense kom egter nie tot inkeer nie, en daarom die sesde trompet, waar God begin om die ongehoorsames met die dood te straf (vers 15).
Ons sien hier iets van die verbysterende hardnekkigheid van die goddelose.