Toe het ’n sterk engel ’n groot klip, so groot soos ’n meulsteen, gevat en dit in die see gegooi en gesê: “So, met geweld, sal Babilon, die groot stad, neergegooi word, en niemand sal hom ooit weer kry nie.” (vers 21)
Johannes teken in Op 18 die finale en algehele ineenstorting van die antichristelike wêreldorde wat ’n wet in sigself is en leef asof daar nie ’n hoër gesag is nie. Dit is ’n wêreldorde wat in opstand gekom het teen God en sy bedoeling met die geskiedenis.
Die val van Babilon is simbolies van die vernietiging van die goddelose magte wat gedreig het om die gelowiges te oorweldig. Die boodskap aan die gelowiges is dat ons nie met sonde mag heul nie, anders kan dieselfde oordeel ons ook tref (vers 4).
Dit gaan nie oor persoonlike vergelding vir die gelowiges nie, maar oor die eer van God wat finaal seëvier. Daarom kan gelowiges saam met die hemel juig (vers 20).
Dit wat ons in die wêreld beleef en die maghebbers wat die septer swaai, kan in ’n oogwink tot ’n val kom. God alleen beskik oor alle mag. Wanneer Hy ingryp, word die rolle omgekeer. Daarom leef ons met hoop.