Wat ek jou voorskryf, is ’n lamp, my onderrig is ’n lig; wie hom laat teregwys, is op die pad na die lewe toe. (vers 23)
My liewe koningin
Ek haas my om hierdie briefie betyds by jou te kry, want ek is so bang julle neem oorhaastig ’n besluit, en dat dit julle later berou.
Jy sê Abimeleg is oortuig daarvan dat ’n bondgenootskap met Etiopië teen Egipte tot julle voordeel is, en hy is vas van plan om volgende maand die verdrag te onderteken. Dit kan seker wees dat dit ’n goeie skuif is en dat dit sy hand teen Omar sal sterk. Maar dit kan net sowel ’n rampspoedige besluit wees. Hoe sal ons nou weet?
Dit is juis my probleem met die hele saak. Ons mense is altyd so oortuig dat ons reg is en reg optree. Maar ons insigte is beperk. Destyds toe ons volk die land Kanaän ingetrek het, het Josua-hulle oorhaastig met die Gibeoniete ’n verdrag gesluit, en te laat ontdek dat hulle bedrieg is.
Vra vir Abimeleg om ’n bietjie te wag voordat hy besluit, en bid dan saam met hom dat die Here julle die regte leiding sal gee. As jy dan, nadat julle oor die saak gebid het, vrede in jou hart kry oor die besluit, kan julle voortgaan met die wete dat die Here dit goedkeur. Maar as Hy julle deur sy Gees onrustig maak – soos dit vir my lyk nou met jou die geval is – dan moet julle liewer nog ’n bietjie wag.
Ek bid dat jou man na jou – en my! – goeie raad sal luister.
Bid asseblief vir my ook. Rehabeam gee my grys hare.
Jou ewige vriend,
Salomo ben Dawid
Views: 12