Vir ons is ’n Seun gebore, aan ons is ’n Seun gegee; Hy sal heers, en Hy sal genoem word: Wonderbare Raadsman, Magtige God, Ewige Vader, Vredevors. (vers 5)
Hoekom het gode soos Baäl en Dagon en Marduk nie oorleef nie, maar Jahwe, die God van Israel, wel?
Daar is twee redes. Die eerste is voor-die-hand-liggend. God is die enigste ware, lewende God; die ander is afgode. In Jesus Christus het Hy tot by ons gekom; is Hy vir ons die Raadsman in tye van radeloosheid, die Almagtige in tye van nood, die Vader wat ons versorg en die Vredevors wat oor ons regeer.
Die ander rede lê by die optrede van die profete. In donker tye het hulle die geskiedenis verklaar en God se optrede daarin verkondig. Hulle het hoop gebring vir mense wat verpletter is, en só kon hulle selfs in die donkerste tye (Jes 8:23) vasbyt.
Hierdie gedeelte roep al God se kinders wat in vertwyfeling en wanhoop verkeer, op om op Hom te vertrou. Hy kan voor begin. Hy kan duisternis in lig verander. Vir ons hét Hy dit reeds deur Jesus Christus gedoen. Daarom kan ons moed skep en leef.