Wat My betref, sê die Here, dit is my verbond met die volk: my Gees wat op jou is en my woorde wat ek in jou mond lê, sal nie uit jou mond en uit die mond van jou kinders en jou kindskinders verdwyn nie, sê die Here, nie nou nie en nooit nie. (vers 21)

Die mens is nou eenmaal so: dis altyd iets of iemand anders se skuld, en uiteindelik God se skuld dat dinge verkeerd loop. Só het die teruggekeerde ballinge ook geredeneer, want hulle omstandighede is haglik. Nou verseker die Here hulle dat dit nie sleg gaan omdat Hy nie kan help nie, of omdat Hy nie hulle geroep kan hoor nie. Dit gaan sleg vanweë hulle eie sonde en ongehoorsaamheid (vers 2).
Dan kom daar inkeer: “Ons sondes kla ons aan,” erken hulle (vers 13).
God se reaksie gee ’n mens moed vir jouself, want Hy gryp in en tree self op as Verlosser (vers 20), sodat sy Naam weer geëer sal word (vers 19).
Uiteindelik het dié belofte op ’n finale wyse waar geword toe die Here Jesus ons kom verlos het, en sy Gees gestuur het om gelowiges toe te rus en te vorm tot standvastige getuies vir Hom.

image_pdfimage_print