Ek sal van hulle as priesters en Leviete aanstel, sê die Here. (vers 21)
Een van die groot faktore wat spanning in die wêreld veroorsaak, is rassespanning. Mense van verskillende rasse, tale, agtergrond en kulture sukkel om mekaar te verstaan en te vind. En tog het God ons almal geskep, en ons word almal geroep om aan Hom gehoorsaam te wees.
Jesaja voorspel ’n tyd wanneer al die spanning opgehef sal wees; ’n tyd wanneer die belofte van God aan Abraham en Sara in vervulling sal gaan en al die volke van die aarde geseën sal wees (Gen 12:2-3). Mense van nie-Joodse afkoms sal selfs priesters en Leviete wees (Jes 66:21). Later sien Johannes in ’n hemelse visie hoe mense uit elke stam en taal en volk en nasie saam die Here aanbid (Op 5:9-10).
Dís hoe dit eendag in die hiernamaals sal wees – ’n harmoniese saambestaan voor God. En ons, die kerk, word geroep om nou al ’n venster te wees waardeur die mense van ons dag iets van die hiernamaals kan sien. Dis tog hoekom ons bid: “Laat u koninkryk kom!” (Matt 6:10)
Dit is hoog tyd dat iets van die hemelse harmonie in ons verhoudings sigbaar word!
Ns. Ons gaan (DV) môre voort met die lees van die boek Psalms. Ons lees Psalm 61.
Views: 137