Maar hou jy aan tot die einde toe. Jy sal te ruste gelê word maar weer opstaan en jou bestemde deel ontvang in die eindtyd. (vers 13)
Wanneer dit baie swaar gaan, kan jy maklik moed opgee en in wanhoop versink. Die boodskap van die boek is egter een van hoop. Daar ís lig aan die einde van die tonnel. Dinge sal nie vir altyd so sleg bly nie.
Eggo’s van Daniël se visioene oor groot verdrukking kom in verskillende dele van die Nuwe Testament voor, selfs in die woorde van die Here Jesus (Matt 24:21). ’n Logiese reaksie op so ’n aankondiging is: Wanneer gaan dit gebeur? En wanneer is die wederkoms? (vers 5,7,13). Dit was ook die dissipels se reaksie (vgl Hand 1:6).
Daar is tot vandag toe nog mense wat probeer bereken wanneer die wederkoms sal plaasvind. Nóg Daniël, nóg die dissipels het ’n antwoord op dié vraag gekry. Die antwoord lê nie in wanneer hierdie dinge gaan gebeur nie, maar in hoe ons moet leef – in hoopvolle verwagting op die wederkoms. Vir Daniël sê die engel (vers 13): “Maar hou jy aan tot die einde toe.” Vir die dissipels sê Jesus (Hand 1:8): “Julle sal my getuies wees.” Dis ook vir ons waar.
Naskrif: Ons lees môre die Tweede brief van Johannes.
Views: 53