Elke Sondag moet elkeen van julle na sy vermoë tuis iets opsy sit en dit opspaar, sodat die geldinsameling nie eers plaasvind as ek kom nie. (vers 2)
Geld was nog altyd vir party mense ’n versoeking. Daarom skryf Paulus elders dat geldgierigheid die wortel van alle kwaad is (1 Tim 6:10; kyk ook na Heb 13:5). Waag ’n predikant dit om oor dankoffers te preek, is daar dadelik ’n paar ontevredenes. Die waarheid is egter dat dankoffers ’n integrale deel van ons geloof is. Dit was al so in die Ou Testament, en in die eerste gemeente in Jerusalem (Hand 4:32 en 5:1-11).
Paulus het oral in die gemeentes wat hy gestig het, geld ingesamel vir die gelowiges in Jerusalem. Interessant dat hy nie die klem laat val op hoe nodig die armes in Jerusalem die geld het nie. Hy verduidelik eerder dat gereelde dankoffers deel van jou dankbaarheid voor die Here moet wees. Hy lê nie ’n vaste bedrag neer nie maar sê elkeen moet na vermoë dít gee wat hulle vooraf gereed gekry het. In 2 Kor 9:5 sê hy dit moenie iets wees wat afgepers word nie.
Dalk is dit tyd om weer ’n slag oor jou dankoffer te besin?
Naskrif: Ons gaan môre die boek Spreuke begin lees. Seënwense!
Hits: 64