Sing ’n nuwe lied tot eer van die Here, want Hy het magtige dade gedoen, deur sy krag en Goddelike mag het Hy oorwin. (vers 1)
Die inhoud van Psalm 98 stem baie ooreen met dié van Psalm 47, 93, 96, 97 en 99. In almal word die gelowiges opgeroep om God te prys vir sy verlossingsdade.
Drie maal herhaal die digter sy oproep. In vers 1-3 jubel dit oor God as magtige Oorwinnaar; in vers 4-6 word almal op aarde ook opgeroep tot lof, en in vers 7-9 kom ook die skepping by. In Op 5:8-14 bou Johannes op dié tema voort, totdat die hele skepping, alles in die hemel en op die aarde en onder die aarde en op die see, ja, alles wat daar is, God geloof het.
Ek weet ons is nie ’n singende nasie nie. Ek weet ook dat die sang in die erediens deesdae baie sukkel. Lidmate staan dikwels toenemend en luister na die begeleidingsgroep, eerder as om uit volle bors saam te sing.
Ek weet nie wat die antwoord is nie, maar ek dink ons sang vandag is nie waardig om ons lof tot God te dra nie.