Julle ken die genade van ons Here Jesus Christus: hoewel Hy ryk was, het Hy ter wille van julle arm geword, dat julle deur sy armoede ryk kan word. (vers 9)
Paulus se benadering tot die gee van dankoffers kan ons almal help om nuut oor dié saak te dink. Hy neem ons na die Here Jesus en wat dit Hom gekos het dat ons geestelik ryk kan word. Dit het sy alles gekos. Dít is waaraan ons moet dink wanneer ons ons offers bring. Daarom hou hy die gemeentes in Masedonië aan die Korintiërs voor. Hulle dankoffers het hom verstom, en dit het gebeur omdat hulle die saak reg benader het. “Eers het hulle hulleself aan die Here gegee,” skryf hy in vers 5.
Paulus gee nie ’n opdrag aan die gemeente nie, maar hy glo tog dat ander se voorbeeld hulle sal inspireer om uit vrye wil te gee. Hulle het immers alles in oorvloed ontvang (vers 7). God verwag egter nie van jou om jouself te breek om ’n offer te kan gee nie (vers 13). God verwag tog nie van iemand iets wat hy nie het nie (vers 12). Jou dankoffer is uiteindelik ’n toets van jou liefde vir God (vers 8).
Views: 55