Dat ons ter wille van ons geloof vervolg sal word, staan vas. Dit weet julle. (vers 3b)
Teenspoed is nie altyd die gevolg van sonde in jou lewe nie, al beweer voorspoedsteoloë dit. Teenspoed is soms deel van God se plan met ons. Beproewings maak jou geloof sterk (Jak 1:2-4) en kweek volharding (Rom 5:3-5). Dit maak jou ook sensitief vir ander se probleme (2 Kor 1:6). God gebruik beproewings tot ons beswil (Rom 8:28).
God is nie ’n gelukbringer nie. Hy sal nie alle teenspoed van jou weghou en sorg dat jy voorspoedig is nie. Wat Hy wel belowe, is dat Hy in ons teenspoed en deur ons teenspoed heen met ons besig is en ons beskerm. Daarom moet jy nie dink God het jou vergeet as dit sleg gaan of jy aan ’n vuurproef onderwerp word nie (1 Pet 4:12). Onthou wat Jesus in Matt 5:11 gesê het: “Geseënd is julle wanneer die mense julle ter wille van My beledig en vervolg en valslik al wat sleg is van julle sê.”
Iewers is die duiwel natuurlik ook aan die werk (vers 5). As jy aan God vashou, sal jy ontdek dat Hy jou ook vashou en die vurige brandpyle van Satan (Efes 6:16) sal ombuig, jou ten goede.