My onderrig kom na julle toe soos reënwater, my woorde verkwik julle soos dou, soos sagte reëns op die grassies, soos reënbuie op die graan. (vers 2)
Vir die Israeliete wat vir veertig jaar net die dorheid van die woestynlewe geken het, moes die beeld van reënwater, dou en sagte reën besonder treffend gewees het. Só is sy woorde (wat hy in opdrag van die Here oordra, vgl 31:19), sê Moses. Dit verkwik en bring groei en nuwe lewe.
As jy egter die hele lied lees, is daar met die eerste oogopslag min sprake van verkwikking. Dit is ’n aanklag teen Israel, want in die toekoms gaan hulle aan die Here ontrou wees. Daarom vertel dit eerder van straf en oordeel uit die hand van God.
Partykeer is soebat en mooipraat nie gepas nie, en is harde woorde nodig. Dit val nie sag op die oor nie. ’n Lidmaat het al vir my gesê sy wil nie van die preekstoel af hoor sy doen sonde nie; sy wil hoor sy is oulik en wonderlik.
Daar wás ’n tyd toe preke meer oordeel as genade verkondig het. Ek onthou hoe sieldodend dit was. Maar dalk het die pendulum nou te ver teruggeswaai. Oordeel én genadeverkondiging is nodig.
Views: 6