Hy is bedienaar van die heiligdom, die ware verbondstent, wat deur die Here opgerig is en nie deur ’n mens nie. (vers 2)
Die ou bedeling (ook genoem testament of verbond) van priesters en offers is uitgedien (vers 13), want dit was net ’n voorafskadu van die nuwe verbond, waar Christus as volmaakte Hoëpriester in die hemel diens doen (vers 1-2). Nou is dit nie meer ’n priester wat as middelman tussen ons en God optree nie, maar Jesus (vers 6).
Die rede hoekom die ou bedeling misluk het, is omdat die mense nie hulle kant van die ooreenkoms nagekom het nie (vers 9). In die nuwe bedeling skryf God self sy wet in ons hart, sodat ons vir Hom ’n volk kan wees (vers 10-11). En omdat Christus, ons Hoëpriester, ons sondes versoen het, sal God glad nie meer daaraan dink nie (vers 12).
Deur die werk van die Gees het hierdie voorspelling, wat al deur Jeremia (Jer 31:31-34) gemaak is, op Pinksterdag ’n werklikheid geword. Ons kan die wil van die Here ken omdat ons sy Woord het, en die Gees verklaar dit aan ons (Joh 14:26). Wat ’n voorreg om deel te mag wees van hierdie nuwe bedeling!
Views: 32