Maar Dawid sê vir die Filistyn: “Jý kom na my toe met ’n dolk en ’n spies en ’n swaard, maar ék kom na jou toe in die Naam van die Here die Almagtige, die God van die linies van Israel, wat jy verkleineer het.” (vers 45)
Die geveg tussen Goliat en Dawid begin waar Dawid in verontwaardiging reageer oor die situasie waarin hulle is. Wat hom betref, is dit nie maar net ’n uitdaging van ’n Filistynse baasvegter aan die Israeliete nie. Goliat het die lewende God beledig (vers 26). Dit was nie net ’n geveg tussen twee soldate nie, maar deel van ’n magstryd tussen die Filistynse gode en die God van Israel.
Dáárom sien Dawid kans om te gaan veg, want hy gaan om die eer van God te verdedig. Sy wapens is nie belangrik nie. Die Naam van die Here is belangrik (vers 45). Uiteindelik behoort die oorwinning ook nie aan Dawid nie, maar aan die Here.
Waar is die grote Saul wat kop en skouers bo sy volksgenote uitstaan? Hoekom aanvaar hý nie die uitdaging nie? Seker oor dieselfde rede as hoekom óns nie in beweging kom as die eer van God op die spel is nie. Ons bly maar stil, of kyk anderpad.
Views: 12