Ons weet niks meer van Noadja as die een enkele terloopse opmerking in Nehemia se vertelling nie. En tog is dit genoeg om haar by die lysie van slegte vroue te voeg. Want om in die Naam van die Here willens en wetens leuens te verkondig, is, wat my betref, verfoeilik.
Toe sy die deur oopmaak en die aantreklike gestalte van Tobija voor haar sien staan, slaan haar hart ’n slag oor. Wat sou hy, die konsul van Ammon, in haar nederige huis kom soek? Maar sy ruk haar vinnig reg en nooi hom in. ’n Mens laat nie belangrike gaste voor jou deur staan en wag nie!
Hulle gesels oor onbenullighede terwyl hulle ’n bekertjie heuningbier saam geniet, en ’n paar dadels. Toe hy sy leë beker neersit, is dit uiteindelik tyd om die rede vir sy besoek te verneem. Hy kyk haar in die oë en sê: “My skoonpa het my na jou toe aanbeveel. Ek verstaan julle is goeie vriende.”
Noadja glimlag innerlik, maar wys nie vir Tobija hoe in haar skik sy is nie. As Sekanja die man na haar toe gestuur het, kan dit net een ding beteken: geld. “Ons ken mekaar van ons kinderdae af, ja,” antwoord sy. Laat hy die praatwerk doen.
“Ek het verstaan dat jy ’n profetes is wat nogal aansien in die stad geniet.”
Sy trek haar skouers op. “Ek het al ’n keer of wat profesieë ontvang, ja,” antwoord sy beskeie.
“Jy is verniet so beskeie,” glimlag Tobija. “Soos ek gehoor het, tel jou uitsprake nogal swaar by julle geliefde hoëpriester Eljasib.”
“Ek is bly om dit te hoor.” Waarheen lei die gesprek dan nou?
“Wat dink jy van julle liewe goewerneurtjie?” verander hy die onderwerp.
“Ek ken hom nie goed genoeg om te veel van hom te dink nie,” hou sy haar stem neutraal. Sy wil eers sien hoe die wind waai voordat sy iets sê. Met magtige manne soos Tobija kruis ’n mens nie swaarde nie. Dan kan sy tog nie help om by te voeg nie: “Maar dat hy wondere met die stadsmuur uitgerig het, is waar. Die muur is al oor halfpad, en hulle het skaars drie weke gelede met die werk begin.”
Sy sien haar laaste opmerking staan hom nie aan nie, en sy voeg haastig by: “Maar hy is ’n koddige kêreltjie, of moet ek liewer sê persoontjie?”
Nou glimlag Tobija breed. Hy prop ’n dadel in sy mond en sê al kouende: “Persoontjie is reg, wat my betref. Ek moet eerlik sê ek kan nie verstaan hoe eerwaarde Eljasib ’n ontmande as goewerneur van die provinsie kan duld nie. Verbied die wet van God dan nie dat ’n ontmande deel van die gemeente mag wees nie?”
“Sekanja het so-iets gesê, ja. Maar dis nie juis my besigheid nie, u weet. Ek is maar net ’n eenvoudige ou vrou.”
Tobija leun vorentoe en sê: “En sê nou maar ek maak dit vir jou die moeite werd om dit jou besigheid te maak?” Hy haal ’n sakkie uit en gooi ’n hopie silwer voor haar op die tafel.
“Natuurlik mag ’n profeet van die Here nooit sê iets is nie sy of haar besigheid as dit oor gehoorsaamheid aan die wet van God gaan nie,” sê sy veelbetekenend, haar oë gretig op die klein fortuintjie voor haar op die tafel.
Tobija glimlag breed en staan op. “Dit lyk my ons twee verstaan mekaar baie goed, Noadja.” Hy beduie na die silwer op die tafel toe hy sê: “Daardie ou geskenkie is maar net ’n voorskot. Daar wag nog soveel as jy binne die volgende twee dae ’n profesie teen Nehemia lewer.”
Sonder ’n verdere woord loop hy by die deur uit. Net die sagte gloed van die silwer in die huisskemer vertel dat hy daar was.
Noadja laat die silwer deur haar vingers gly, ’n skewe glimlag op haar lippe. Sy weet presies wat sy sal doen …
***
Sy wag die hele oggend geduldig in die skaduwee van ’n wildevy, waar sy weet die goewerneur verby sal kom op sy rondtes om die bouwerk te inspekteer. Toe sy hom en sy broer Ganani sien aankom, begin sy haar strompelgang in die pad af. Haar kop is onbedek, en sover sy loop, kerm sy en gooi stof op haar hare. “Wee, wee die stad van God!” roep sy in ’n kermstem. Uit die hoek van haar oog merk sy tevrede dat haar geskree ’n hele groep nuuskieriges gelok het. Die bouers op die muur het ook hulle werk gestaak om te kyk wat aangaan.
Toe die goewerneur naderkom, steek sy verskrik vas en deins van hom af weg, hande afwysend voor haar opgelig. “Moenie naby my kom nie!” skree sy half histeries en wys met ’n krom wysvinger na Nehemia. “Daar is die man wat die toorn van die Here oor ons stad gaan afbring! So sê die Here God:
‘Wee julle, priesters van Jerusalem;
’n ontmande is op pad na my tempel
en julle keer hom nie.
Ellende wag vir jou, onteerde stad;
jy wat my verordeninge minag.
Solank ’n ontmande in Sion regeer
sal my toorn nie bedaar nie.
Ek gaan my hand uitsteek teen Juda
en teen al die inwoners van Jerusalem,
Ek gaan uit hierdie plek uitroei
elke goddelose wat ontmandes duld.
Jou mure sal ineenstort, stad van God;
jou skanse sal ’n murasie word
totdat jy jou bekeer en my verordeninge gehoorsaam.’”
As dít nie die goewerneur sal terugjaag na Susan nie, sal niks nie, dink sy tevrede toe hy bleek om die kieue omdraai en na sy goewerneuerswoning toe vlug. Ja-nee, Tobija sal baie tevrede wees met haar vertoning, dis nou maar klaar.
As ’n mens na Noadja kyk, word dit duidelik hoekom die Here Jesus by geleentheid gesê het ons kan nie God én Mammon (die geldgod) dien nie (Matt. 6:24). En op ’n ander plek (Luk. 12:15): “Pas op en wees op julle hoede vir elke vorm van gierigheid, want ’n mens se lewe is nie afhanklik van die oorvloed van sy besittings nie.” Geldgierigheid beduiwel jou goeie oordeel, en besorg aan jou vennote wat jy nooit andersins sou gekies het nie. Hoe anders verklaar jy die feit dat ’n profetes van die Here soos Noadja die persoon wat die muur om die Godstad herbou, aanval?
Oor hierdie saak mag ’n mens nie maar jou skouers optrek nie. Paulus noem geldgieriges in dieselfde asem as onsedelikes, bedrieërs, afgodedienaars, kwaadpraters en dronkaards (1 Kor. 5:10,11), en in Efes. 5:5 skryf hy: “Dit moet julle goed besef: iemand wat ontug pleeg, onsedelik lewe of ’n gierigaard is – want gierigheid is afgodery – het nie deel aan die koninkryk van Christus en van God nie.”
Kras woorde. Maar dis wat die Bybel sê.
Naskrif: Ons gaan by ons dogter in die VSA kuier en sal eers weer in Augustus terug wees en my skrywery hervat. Vrede!
Views: 20