Toe sê Dawid vir Natan: “Ek het gesondig teen die Here.” (vers 13)
Uit Dawid se emosionele reaksie op die profeet Natan se verhaaltjie (vers 5-6) kan ’n mens agterkom dat sy gewete hom gepla het. En toe Natan vir hom sê: “Jy is die man!” probeer hy hom op geen manier verontskuldig nie. Hy het geweet Natan is reg.
’n Mens kan dalk vra hoekom Dawid se straf so erg was. Hy hét mos met egte berou bely dat hy gesondig het (vers 13; lees ook Ps 51). Hoekom vergewe God nie en klaar nie? Dis tog wat Ps 103:8-13 sê?
Natuurlik vergewe God ons as ons in berou na Hom gaan (1 Joh 1:9). Maar dit vee nie noodwendig die gevolge van ons sonde uit nie. Sonde laat sy letsels op jouself én jou mense. In Dawid se geval het sy seuns sy swak voorbeeld met oorgawe gevolg, soos ons in die volgende hoofstukke sal sien.
God kan natuurlik ’n situasie omkeer as ons met egte berou na Hom toe gaan (Jona 3:10). Dis waarop Dawid gehoop het met sy gebed en vas (vers 16). Uiteindelik is dit egter God wat besluit. En selfs dan bly Hy die genadige God van tweede kanse (vers 24).
Views: 30