Toe het die koning vir Sadok beveel: “Vat die ark van God terug stad toe. As die Here my dit vergun en my terugbring, sal Hy my die ark en sy heiligdom weer laat sien. (vers 25)
Absalom se opstand het ’n lang aanloop gehad. Dit is vreemd dat Dawid in vier jaar nie snuf in die neus gekry het nie. Dawid was egter nie dom nie, en ons sien hier dat hy ’n uitgeslape strateeg was:
- Hy vlug om te voorkom dat die stad en haar inwoners ’n beleg en oorlog trotseer.
- Hy laat ook nie die ark saamkom nie. Dit was moontlik omdat hy besef het dat die ark nie ’n oorwinning sou waarborg nie (1 Sam 4), maar ook omdat hy geweet het dat sy sonde met Batseba hom ingehaal het. Hy vertrou egter op God se genade. Aan die ander kant bied die ark ’n waterdigte alibi vir Sadok en Abjatar om in die stad te wees, al was hulle Dawid se bondgenote. Hulle was ’n noodsaaklike deel van sy inligtingsnetwerk (vers 35).
- Hy stuur sy vertroueling Gusai terug, sodat hy Agitofel se raad kan verydel.
Dawid se omgee-hart is in alles duidelik. Selfs in sy krisis dink hy aan ander.