Mag die Here jou seën uit Sion, Hy wat hemel en aarde gemaak het. (vers 3)

Hierdie laaste van die 15 pelgrimsliedere is ’n soort huistoe-stuur woord waarmee die pelgrims se fees afgesluit word. Eers vra die pelgrims dat die priesters die Here moet aanroep en prys (vers 1-2), en dan antwoord die priesters deur die pelgrims te seën (vers 3), baie soos ons vandag ’n erediens afsluit met die predikant wat met opgehefde hande die gemeente seën en God se teenwoordigheid aan hulle toesê (vgl 2 Kor 13:13).
Ons ken hierdie psalm veral uit die bekende beryming in die psalm-bundel: “Laat, Heer, u seën op hul daal, u guns uit Sion hul bestraal ...” Die Here seën sy volk uit Sion (vers 3a). Hiermee word al die pelgrimsliedere opgevang. Die Here gee aan die pelgrims wat hulle nodig het: beskerming (Ps 121; 124; 125), voedsel in oorvloed (Ps 132:15), hulp in nood (Ps 120:1), blydskap (Ps 126:2-3), tevredenheid (Ps 131), lewensekerheid (Ps 132; 133:3) en ’n toekomsverwagting (Ps 130:5-8; 131:3).
Só verstaan is die seënbede aan die einde van die erediens veelseggend, want ons beweeg vanuit die ontmoeting met die lewende God in die erediens, die lewe in, toegevou in sy sorgende liefde.

image_pdfimage_print

Views: 32

Teken in op my artikels

Teken in op my artikels

As jy inteken, kry jy al die artikels in jou epos posbus!

Sukses! Dankie dat jy ingeteken het.