Help tog, Here, want daar is geen vrome meer nie, daar is geen betroubare mens meer oor nie. (vers 2)
Dié versugting kom ook by my op as ek die nuus kyk of die koerant oopslaan. Bedrog, korrupsie, leuens … Dis aan die orde van die dag, en ’n mens wil jou hande in die lug gooi. Ons samelewing is verrot, soos dit ook in die dae van die digter was. Dit laat ’n mens dink aan die profeet Elia toe hy gevlug het voor koningin Isebel se wraak, en dan by die Here kla dat net hy alleen oorgebly het onder die vromes (1 Kon 19:14).
Dit Ãs so dat die verrotting van die samelewing ’n mens se gemoed plat druk, en daarom kan ons by die digter van dié psalm leer. Hy stel die bedrieglikheid van die goddeloses en hulle eiewaan teenoor die betroubaarheid van die Here (vers 7). Daarom bekla hy sy lot by God (vers 2), en bely hy opnuut dat die Here die Een is wat oor ons waghou en ons beskerm (vers 8). Sy woorde, anders as mense s’n, is soos silwer (vers 7; vgl Ps 19:8-11).
Dalk moet ons minder nuus kyk en koerant lees, en ons meer verdiep in God se Woord?