Terug na die wet en die getuienis van die Here! Wie nie volgens hierdie woord praat nie, is sonder toekoms! (vers 20)
Mense soek naarstiglik na waarborge en sekerhede, maar sonder God is die toekoms noodwendig duister, waarsku Jesaja. Ons het géén ander waarborg vir die toekoms nie. Ons weet dit almal. Ou nuus, sal mense dalk sê. Maar leef ons dit? Is ons in ons omgewing die lewende getuies van die Here die Almagtige op wie ons hoop (vers 17-18)?
Mense pik verward rond en glo enige ding. Samesweringsteorieë en allerhande vrese is aan die orde van die dag. Covid-19 is maar net ’n soort griep, sê mense. Of: dit word deur die nuwe G5-tegnologie veroorsaak. En: Voorvader-aanbidding laat demone los. En: Kersfees is ’n heidense fees. Pasop hiervoor! Bly weg daar!
Al wat dit regkry, is om paniek te saai. “Julle moenie bang wees en skrik vir die dinge waarvoor hulle bang is nie,” vermaan Jesaja (vers 11). Ons weet tog dat God ons veilige beskutting is. Jesus is die Een wat sterker is (Luk 11:14-23). Aan Hom is alle mag gegee in hemel en op aarde (Matt 28:18).
Ons enigste troos in hemel en op aarde is dat ons aan Jesus behoort, sê die Heidelbergse Kategismus.
Views: 26