Die hoëpriester Gilkija sê toe vir die staatsekretaris Safan: “Ek het die wetboek in die huis van die Here gekry.” (vers 8)
’n Mens kan jou dit byna nie voorstel nie: die wetboek van die Here was in totale onbruik en vergete. Hoe gebéúr so iets? Hoe het dit gekom dat die priesters, wat daagliks diens doen in die tempel, nooit daaroor gewonder het nie?
Ons hoef egter nie te dink dat so-iets net in die Ou Testamentiese tye gebeur het nie. Vandag nog is dit so dat die Bybel in baie huise toe lê en stof vergaar, en dat die volgende geslag dan geen erg aan die Bybel het nie. Dit is die hartverskeurende realiteit van die kerk se jongmense. Hulle ken nie die Bybel nie en weet nie hoe om dit te gebruik nie.
Die Here het destyds by monde van die profeet Hosea gesê (Hos 4:6, 2020-vertaling): “My volk kom om weens ’n gebrek aan kennis. Omdat jy die kennis verwerp het, sal Ek jou verwerp …”
Dit help nie om maar net ons koppe daaroor te skud nie. Die antwoord lê daarin dat ons die mense wat die Here aan ons toevertrou het, weer opgewonde maak oor die Bybel deur sélf entoesiastiese Bybellesers te wees.