Die toorn van die Here was op Jerusalem en Juda; Hy wou hulle wegvee uit sy teenwoordigheid uit. (vers 20)

Die uiteinde van die Koninkryk van Juda kom al ’n hele ent aan. Met koning Josia was daar nog ’n sprankie hoop, maar die laaste paar konings was die een so hopeloos soos die ander. Oor en oor herhaal die skrywer dit dat die Here se geduld op was met sy volk (vgl vers 3 en vers 20).
Dat God onverdeelde trou van ons eis, staan al in Eks 20:5. Hoe die Judeërs dít nie verstaan het nie, gaan ’n mens se verstand te bowe. Maar dit is hoe sonde werk. Dit vernietig jou gesonde oordeel, soos Adam en Eva al moes leer. Jy wéét dis verkeerd, maar tog doen jy dit.
Dit bly ’n misterie dat ons só is: koppig, eiewys, hardhorend, traag om die regte ding te doen, dwars. Ons vlug van God af weg. En ons is só diep vasgevang in hierdie bose kringloop van ongehoorsaamheid en mislukking dat daar géén uitkomkans is nie. Ons is verlore.
En tog het God die wêreld só lief dat Hy sy Seun gestuur het. Ook vir jou. Daarvoor kan ons nooit genoeg dankie sê nie. Doen dit sommer nou.

image_pdfimage_print

Views: 13

Teken in op my artikels

Teken in op my artikels

As jy inteken, kry jy al die artikels in jou epos posbus!

Sukses! Dankie dat jy ingeteken het.