Toe Hy die man met die linneklere beveel: “Gaan vat vuur tussen die wiele, tussen die gerubs,” het hy langs ’n wiel gaan staan. (Eseg 10:6)
Calvyn skryf oor vers 4 dat, soos die magtige teenwoordigheid eens die tempel gevul het, dié teenwoordigheid (God self!) die tempel verlaat en in ’n donker wolk hul. God het Hom onttrek van sy volk, in voorbereiding op die vernietiging van Jerusalem. Hy kan nie langer tussen ’n goddelose volk woon nie. Ironies dat juis die tempel, die Jode se groot veiligheidshawe, nou die plek word vanwaar God sy oordeel (die vuur in vers 6 en 7) voltrek, soos detyds met Sodom en Gomorra (Gen 18-19).
Die man in linneklere, wat pas die uitverkorenes gemerk het (Eseg 9:4), word nou beveel om kole vanuit die teenwoordigheid van God te neem en dit oor die stad uit te strooi (vers 2). Hy huiwer egter (vers 7); die magtige teenwoordigheid van die Here het hom van angs laat vries. Dit is wat God se magtige teenwoordigheid aan ’n mens doen. Maar God kom dikwels die mens se onvermoë te hulp, hierdie keer deur ’n gerub (vers 7, vgl Fil 2:13). Ons moet maar net gewillig wees om diensbaar vir Hom te wees.