Hoe langer die dag duur, hoe vroliker gaan dit, en later ook wellustiger. Hulle dans al om die goue kalf, die mans vatterig, die vrouens uitlokkend. “Ons god is ’n vreeslike, vrugbare bul! Kom ons vereer hom met ons eie vrugbaarheid,” jil die manne, en gryp na gewillige vroue.

Dis hoe Moses die kamp aantref toe hy en Josua die middag laat van die berg af terugkom. “Wat gaan hier aan?” brul hy, sy gesig wit van woede. Hy lig die twee plat klippe waarop God met sy eie vinger sy gebooie neergeskryf het, hoog bokant sy kop en gooi dit flenters teen die altaar.

Josua kyk ontsteld hoe sy leier die kosbare getuienis van God se verbintenis met sy volk vernietig. “Hoekom doen u dit, Meneer?”

Moses se oë brand van die trane. “Hoe kan ons hierdie bewys van God se verbond met ons ontvang as die volk die Here verwerp het?”

Toe draai hy na Aäron. Sy stem is sag, maar dit klink oor die plein waar die mense staan: “Wat het hierdie volk jou aangedoen dat jy hulle hierdie groot sonde laat doen het?”

Aäron hou sy hande verontskuldigend voor hom, palms na bo. “Moenie vir mý kwaad wees nie. Jy ken mos hierdie mense. Jy weet self hoe sleg hulle is. Jy was nie hier nie, en toe sê hulle vir my: ‘Maak vir ons ’n god dat hy ons kan lei.’ Toe vra ek hulle moet vir my goud bring. Ek het die goud in die vuur gegooi, en toe ek weer sien, kom hierdie goue kalf daar uit.”

Uit die episode met die goue kalf is dit glashelder duidelik waarom God vir Moses, en nie vir sy ouer broer Aäron nie, as leier van die volk gekies het. Leierskap verg verantwoordelikheid, maar Aäron wil nie pa staan vir sy besluite nie.

image_pdfimage_print

Views: 28

Teken in op my artikels

Teken in op my artikels

As jy inteken, kry jy al die artikels in jou epos posbus!

Sukses! Dankie dat jy ingeteken het.