Josua 7
Partykeer dink ’n mens: ag, niemand sal dit ooit uitvind nie. En dan vat jy ’n kans, soos Akan.
Terwyl Akan deur die koninklike paleis in Jerigo storm op soek na die vyand, sien hy dit: ’n versierde kis wat in die hoek van ’n vertrek staan. Hy steek vas. Watter soort goed bêre koninklikes in versierde kiste? Nuuskierig maak hy die kis oop. Bo-op in die kis is klere. Die materiaal is fyn en glad onder sy vingers, glad nie soos die growwe klere wat hy ken nie. Toe hy dit uit die kis lig, sien hy dat dit ’n rok is. Mirrie, sy oudste meisiekind wat volgende week vyftien word, sal darem mooi lyk in hierdie skepping. Hy sien al vir haar met ’n effense wieg van daardie fraai heupe deur die kamp stap. Hoe sal sy nie die manne se koppe laat draai met hierdie rok nie! En hy, Akan, sal swel van trots.
Hy grawe verder. Daar is nog klere, en dan, onder-in die kis, ’n versierde leersakkie wat met ’n riempie toegeknoop is. Met bewende vingers maak hy die riempie los en gooi ’n bietjie van die inhoud in sy handpalm uit. Die silwerklonte lê koel en begeerlik in sy hand. En dan sien hy dit: ’n staaf soliede goud! Sy asem jaag. Hier voor hom lê ’n fortuin soos hy in sy lewe nie weer bymekaar sal sien nie. Dis darem jammer die Here het beveel alles moet net so verbrand word. Dis so ’n vermorsing. Tensy …
Hy kyk rond, maar niemand het hom gesien nie. Blitsig prop hy die mooiste rok, die sakkie silwer en die goudstaaf in sy heupsak, en storm dan verder deur die paleis.
Niemand het Akan daardie dag gesien nie. Maar Gód het, en uiteindelik betaal Akan en sy gesin die hoogste prys vir sy ongehoorsaamheid. Al die klere en geld ter wêreld is dít nie werd nie!