Lees Genesis 2:18-25
Genesis 2:18
Verder het die Here God gesê: “… Ek sal vir hom iemand maak wat hom kan help, sy gelyke.”
Aan die begin het die Here Eva as Adam se gelyke gemaak. Dit was eers later, as straf vir Eva se leidende rol in die sondeval, dat Hy gesê het die man sal oor die vrou heers (Genesis 3:16). En so was dit ook van toe af tot in ons eie dag: die vrou moes tweede viool speel. Maar as ons regtig glo dat die bloed van Jesus Christus ons van alle sonde reinig (1 Johannes 1:9), dan reinig Hy die vrou ook mos van hierdie erfskuld. Dan hoef sy nie langer onder die vloek van Eva te leef nie. En dan kan sy weer die man se gelyke wees.
Moenie aan die sondeval-bedeling vaskleef en dink jy is die hoof (baas?) in jou huis nie. Glo dat jou vrou deur die genade van ons Here werklik jou gelyke geword het en langs jou kan staan. Kyk met verloste oë na haar. Dan kan jou huwelik weer die oerbedoeling van God verwesenlik en kan jy en jou vrou ’n stukkie van die paradys in julle huwelik beleef.
Die ideale vrou is die een wat ’n ideale man het. (Booth Tarrington)
Views: 75






